VROUE IN FOKUS: LETITIA UNGERER SE SPORTSKIETREIS MET KAAPJAG

Van eerste skoot tot vol selfvertroue: ’n onderhoud met een van Kaapjag se inspirerende sportskuts

In die gees van vrouemaand vier Kaapjag die passie, vasberadenheid en unieke perspektiewe van vroue in die jag- en sportskietwêreld.

Hierdie week gesels ons met Letitia Ungerer, sportskut, spanmaat en lewenslustige leerder, oor haar reis met sportskiet, haar betrokkenheid by Kaapjag, en die waarde wat sy vind in hierdie gemeenskap. 

Haar storie is een van selfvertroue, ondersteuning en die moed om buite jou gemaksone te beweeg.



1. Wat het jou aanvanklik aangetrek tot jag en/of sportskiet? 

“Sportskiet het my van jongs af gefassineer, maar ek het eers later in my lewe die geleentheid gekry om dit regtig aan te pak – toe ek my man, Divan Ungerer, ontmoet het. Hy het my bekendgestel aan die sport, en ek was dadelik getref deur die fokus, presisie en selfdissipline wat dit verg. Vandag is dit nie net ’n passie nie, maar ook iets wat ons saam geniet.”

2. Hoe het jy by Kaapjag betrokke geraak? 

“My man is al lank deel van Kaapjag, so ek het van vroeg af blootstelling daaraan gekry. Omdat die Weskus-tak se skietbaan op hulle familieplaas is, was dit vir my die ideale geleentheid om my belangstelling in sportskiet verder uit te leef. Dit het alles natuurlik en gemaklik gevoel – ek was sommer vinnig tuis tussen die mense en die kultuur van Kaapjag.”

3. Wat beteken jag vir jou op ’n persoonlike vlak?

“Persoonlik het ek nog nie self gejag nie, want my passie lê meer by sportskiet. Maar ek het groot waardering  vir jag as ’n tradisie en ’n manier om verantwoordelik met die natuur om te gaan. Dit speel ’n belangrike rol in die volhoubare bestuur van wildgetalle en dra daartoe by om kos op die tafel te sit. Ek waardeer die waardes en verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Sportskiet bied vir my dieselfde gevoel van fokus, uitdaging en ontspanning.”


4. Watter uitdagings het jy as vrou in die skietgemeenskap ervaar – en hoe het jy dit oorkom? 

“Sportskiet kan fisies veeleisend wees, en vroue kan soms minder toegerus voel, al is dit nie noodwendig die geval nie. Ek het opgelet dat vrouens nie altyd enige wapen gemaklik kan gebruik nie, dikwels as gevolg van fisiese verskille. Dit kan ’n uitdaging wees om die regte wapen te kry wat pas en gemaklik is om te hanteer. Gelukkig het die Weskus-tak se lede my baie ondersteun en gehelp om die wapens te vind wat vir my werk. Daardeur kon ek selfvertroue bou en my vaardighede verbeter.”

5. Is daar ’n sportskiet-ervaring wat vir jou uitstaan? 

“Ek kan nie eintlik een spesifieke sportskiet-ervaring uitsonder nie, want elke skietdag bring sy eie uitdagings en hoogtepunte. Dit is daardie variasie wat die sport vir my so interessant en opwindend maak – jy leer altyd iets nuuts en elke keer voel dit anders. Dis vir my die mooi van sportskiet.”

6. Wat is jou gunsteling tipe wapen om te benut? 

“Dis ’n moeilike vraag – amper soos om te vra wie jou gunsteling kind is! Aanvanklik was ek mal oor die .22-kaliber weens sy gemak en akkuraatheid, maar deesdae geniet ek die .308 net soveel. Dit bring sy eie uitdagings en unieke gevoel.

Ek neem ook handwapen-skietdae ernstig op – dit bied ander uitdagings, maar is ongelooflik leersaam en help my om vaardighede verder te slyp. Elke wapen het sy plek, en ek geniet dit om met verskillende kalibers te werk, afhangend van die situasie.”

7. Wat sou jy vir ander vroue sê wat dalk belangstel in jag of skiet, maar huiwerig is om betrokke te raak? 

“Moet nie bang wees om te probeer nie – en veral nie om voor ander mense te skiet nie. Almal begin êrens, en jy leer elke keer iets nuuts. Die meeste mense is ondersteunend en verstaan dat jy dalk nuut is. Gee jouself die kans om te groei en jou selfvertroue op te bou. Jy hoef nie perfek te wees nie – jy moet net bereid wees om te leer en te geniet!”

8. Waarom dink jy is dit belangrik dat meer vroue by organisasies soos Kaapjag betrokke raak? 

“Vir my was Kaapjag ’n plek waar ek kon leer, groei en deel word van iets waarvoor ek regtig lief geraak het. Dit bied die geleentheid om jou vaardighede te ontwikkel, nuwe mense te ontmoet en selfvertroue op te bou – alles in jou eie tyd en op jou eie manier. Ek glo daar is baie vroue wat belangstel, maar nie altyd weet waar om te begin nie. Kaapjag maak dit maklik om in te skakel en dadelik tuis te voel.

Dis nie vir my oor groot stellings of verandering nie – dis net mooi om te sien hoe meer vroue hul plek begin vind in iets wat ons lankal kon geniet het. As jy dit eers probeer, besef jy vinnig dis iets wat vir enigiemand kan werk – nie net vir mans nie.

Ek glo dit is goed vir enigeen om betrokke te raak by ’n organisasie soos Kaapjag. Dis nie net oor jag of skiet nie, maar ook oor veiligheid, verantwoordelikheid, respek vir die natuur en spanwerk. Jy leer waardevolle dinge, ontwikkel nuwe vaardighede, en deel ’n passie saam met mense wat jou ondersteun.”


9. Enige ander gedagtes wat jy wil deel rondom vroue in jag/skiet of jou eie ervaring met Kaapjag? 

“Ek dink elkeen se reis is uniek. Vir my het Kaapjag meer as net ’n sport geword; dit’s ’n plek waar ek kan leer, lag, en soms selfs my skietvernuf verbeter (al gaan dit nie altyd perfek nie). Die mense, die stories en die lekker gesels is net so belangrik soos die skote self.”
My raad?

“Moet nie bang wees om jou plek te in te neem nie – daar’s genoeg ruimte vir almal. Glo my, die eerste skoot is altyd die moeilikste, maar die res word net beter. Jy sal verbaas wees oor hoeveel jy kan leer en groei as jy net die eerste stap neem.”

Vind jou plek by Kaapjag

Letitia se entoesiasme en eerlike perspektief herinner ons daaraan dat daar altyd plek is vir nuwe stemme en vars energie in die jag- en skietgemeenskap. 

By Kaapjag glo ons dat elkeen se bydrae tel, en dat meer vroue betrokkenheid ’n ryker, sterker en meer inklusiewe toekoms vir die sport tot gevolg kan bring.

Mag Letitia se verhaal ’n aanmoediging wees vir elke vrou wat wonder of sy ook haar plek in ’n tradisioneel-mangsgerigte sportgebied kan vind – want ja, JY KAN!

ENQUIRIES

Please contact us with any queries you may have.

back to blogs