Ceres, PA Hamlet, Op-die-Berg, Wolseley, Tulbach, Gouda
Witzenberg Tak is die jongste van Kaapjag se takke en bedien die dorpe van Ceres, PA Hamlet, Op-die-Berg, Wolseley, Tulbach en Gouda. Hierdie tak beskik oor twee uitstekende skietbane om die lede naby Ceres en in die Koue Bokkeveld te bedien.
Vir die gerief van die lede, is die Boetie Beef Skietbaan net buite Ceres op die pad na Touwsrivier geleë. Die Klaas Fernhout Skietbaan lê naby Op-die-Berg in die Koue Bokkeveld.
Die Witzenberg-tak van Kaapjag is gefokus op deelnemende bestuur en wil ons passie vir jag, skiet en die natuur saam met al die lede in die streek uitleef en deel.
Een van ons belangrikste fokusareas is die opgradering van die Boetie Beef Skietbaan wat net buite Ceres geleë is, om skietvaardigheid en wapenhantering verder te bevorder. Die ontwikkeling van die pistool- en kleiteikenbaan is op die bestaande prioriteitslys, aangesien dit die kernaktiwiteite van ons skietgemeenskap ondersteun.
Hoewel die tak se aktiwiteite hoofsaaklik op skiet en kompetisies gesentreer was, het die bestuur besef dat dit vernaam by jonger jagters ’n leemte gelaat het. Daar is ’n behoefte om, te same met vaardighede in wapenhantering, ook kennis en ’n liefde vir die natuur aan te kweek en te ontwikkel.
Om dié behoefte aan te spreek, het die bestuur besluit om veldkunswerkswinkels aan te bied. Gesprekke is reeds in aanvang met kundiges wat ons hiermee sal ondersteun. Lede kan dus na ’n breër spektrum van aktiwiteite buite die gewone skietgeleenthede uitsien.
Beplande werkswinkels sluit in spoorsny, natuurkennis, wildsvleisverwerking en die voorbereiding van wildsgeregte. Só word daar ’n platform geskep waar jong en ouer lede saam kan leer, ervarings kan deel en hul passie vir jag en die natuur kan versterk.
Witzenberg Tak is ook bekend vir sy jaarlikse Witzenberg Veldskiet wat gewoonlik vroeg in die jaar aangebied word. Hierdie byeenkoms wat op die prentjie mooi plaas, Lakenvlei (Ceres) aangebied word, trek skuts van regoor die Wes-Kaap en is werklik ‘n prestige byeenkoms met aanloklike pryse.
Besoek gerus ons kalender vir nadere besonderede oor hierdie tak se komende skietgeleenthede. Witzenberg-aktiwiteite word volgens die skietbaan waar dit aangebied word gelys op ons webtuiste, so let ook op na die Koue Bokkeveld-byeenkomste. ‘n Besoek aan die manne van die Koue Bokkeveld en die Klaas Fernhout-skietbaan word ten sterkste aanbeveel.
Indien u in die omgewings van Ceres, PA Hamlet, Op-die-Berg, Wolseley, Tulbach en Gouda woonagtig is, sal u outomaties met die Witzenberg-tak verbind word ten tye van u suksesvolle lidmaatskapaansoek.
ENQUIRIES
Please contact us with any queries you may have.