KAAPJAG TAK-KOLLIG: NAMAKWA

Lutzville, Kliprand, Vredendal, Koepenaap, Vanrhynsdorp, Klawer, Trawal, Clanwilliam

Voorsitter: Evan Lategan

Evan is ‘n boorling van die Olifantsriviervallei, wat die suidelike grens van die Namakwalandstreek vorm en daarom is dit gepas dat hierdie Kaapjag-tak, die streek se naam deel. As plaasklong van die omgewing, was Evan op Vredendal skoolgaande waarna hy homself  bekwaam het as 'n volwaardig gekwalifiseerde elektrisiën. Hy het vir ‘n aantal jare voltyds hierdie beroep beoefen, waarna hy hom in 2014 tot die landbou gewend het.

Benewens wingerd en skaapboerdery is Evan ook betrokke by groentesaadproduksie. Hierdie hoogs intensiewe boerdery is veeleisend, maar ten spyte daarvan maak Evan nog tyd beskikbaar om op prysenswaardige wyse die belange van jagters, sportskuts en vuurwapeneienaars in sy streek, se belange te dien.  Evan het sy liefde vir jag en skiet van sy Pa geërf. Hy jag graag in Namibië vir groot wild en in die Boesmanland vir die gebruiklike springbokke. Sy kaliber van keuse is die vinnige .22-250, wat goed pas by ‘n man met so 'n op-en-wakker geaardheid.

Evan is 'n uiters bekwame sportskut en het met toewyding en selfontwikkeling gevorder tot die uitgelese Top 50-groep van veldskietskuts, landswyd. Voorwaar 'n noemenswaardige prestasie!

Evan se grootste vreugde is om sy kennis en ervaring met jonger skuts te deel. Hy sal nie huiwer om sy eie belange ondergeskik te stel aan behoeftes van sy mede skuts nie. Dit doen hy ter bevordering van sportskiet en verantwoordelike wapengebruik, in die algemeen.

Evan en sy span, dien op onselfsugtige wyse die lede van Kaapjag Namakwa Tak en ons kan sonder twyfel sê dat Namakwa Tak se lede in goeie hande is!  

Waarna lede kan uitsien

Namakwa Tak spog met ‘n pragtige skietbaan knap teen Vredendal. Die Pietie Hamman Skietbaan is ‘n netjiese baan danksy Namakwa Tak se investering in infrastuktuur op die baan. ‘n Nabygeleë klubhuis bied ook al die fasiliteite wat nodig is om die lede van Namakwa Tak te dien.

Hierdie tak bied gereelde skietbyeenkomste:

- CHASA Senterslagbaanskiet
- CHASA Randslagbaanskiet
- Ghong-skiet
- Handwapenskiet
- Haelgeweerskiet


Die manne van Vredendal is lief vir skiet en hulle kan skiet!

Hulle geledere het al selfs in die onlangse verlede ‘n springbok-skut opgelewer!

Besoek gerus ons kalender om hierdie tak se komende skietgeleenthede te besigtig.

ENQUIRIES

Please contact us with any queries you may have.

back to blogs