
KAAPJAG se Boesmanland Tak op Calvinia bestaan nie uit baie lede nie, maar as dit by aktiwiteite kom, dan kook hulle behoorlik! Met skaars bietjie meer as 100 lede, maar met ‘n toegewyde bestuur en toegewyde manne, dames en kinders spog Boesmanland Tak met ‘n skietbyeenkoms vir elke maand van die jaar.
Jan du Toit, voorsitter van Boesmanland Tak met sy pligsgetroue en toegewyde bestuur, bied byeenkomste aan wat bywoning selfs uit Kaapstad trek en met sulke noemenswaardige pryse dat baie van ons groter takke se manne wonder, hoe kry hulle dit reg? Jan en sy bestuur is gemeenskapsmense en is nie net by KAAPJAG betrokke nie, maar dien die dorp en omgewing met dieselfde toewyding as die lede van ons vereniging. Boesmanland Tak spog ook met ‘n wêreldklas skietbaan en ‘n mooi klubhuis en goedversorgde skietpunte en walle. Ramskop Skietbaan is welbekend in die Boesmanland en Noord-Kaap. Hier is net twee van die onlangse byeenkomste aangebied deur ons manne op Calvinia.
Op Saterdag, 7 Februarie, het Boesmanland Jag (tak van Kaapjag) hul eerste skiet vir 2026 aangebied. Dit was ‘n ghong-uitdaging vir .22-gewere en 34 skuts het opgedaag. Die eerste vier bane was volgens CHASA-standaarde. Baan 1 was in ‘n sitposisie met die hulp van ‘n driepoot. Baan 2 was uit ‘n staanposisie geskiet met die geweer wat op ‘n driepoot kon rus. Baan 3 en 4 was beide uit die lê-posisie geskiet. Die ghonge was verskillende groottes en die verste een was op 104 meter. Daar was ook twee ekstra bane wat die skuts so bietjie uitgedaag het en nie verpligtend was nie. Baan 5 het ‘n stellasie gehad met drie verskillende hoogtes wat al drie gebruik moes word. Dit het tot ‘n aantal vreemde staan- en sitposisies gelei. Baan 6 het twee stelle ghongs gehad waarvan een stel uit die vryhand sitposisie geskiet moes word en die ander stel uit die lê-posisie.
Dit was lekker om die sien dat gesinne kom saam skiet. Daar was die Du Toit’s, die Laubscher’s, die Van Wyks, die Van der Merwes, die Schenks en die Strausse. Ook skuts wat nuut by Boesmanland Jag aangesluit het, skuts wat lanklaas daar was en ‘n paar gaste. Johann Strauss, President: Kaapjag, het ook kom saam skiet en van die pryse oorhandig. Dan was daar ook die skut wat eintlik by ‘n ander geleentheid moes wees waar ‘n rok en hoë hakke vereis was. Eintlik was die plan net om die Jaarvergadering by te woon, in te skryf en maar ‘n nul vir die dag te vat. Maar toe die geleentheid hom wel voordoen,het die skut die rokkie gelig, gesit, gestaan en gelê met twee klippe wat moes sorg dat rok op sy plek bly.
Dit was eintlik ‘n baie lekker skietdag; die wind en lugspieëling het nie die klein kalibers te veel gepla nie. Soos Johann Strauss ook met reg gesê het: Dit is altyd lekker by Boesmanland Jag en op Ramskop skietbaan.
Tydens die Prysuitdeling is die volgende skuts as wenners aangewys:
Penkoppe:
1ste -Kayla Schenk
2de - Elsche van Wyk
3de - Ulrich van Wyk
Juniors:
1ste - Luka van der Merwe
Dames:
1ste - Agatha Strauss
2de - Zanel du Toit
3de - Mariëtta van Rooyen
Seniors:
1ste - Lambert Brand
2de - Johann Strauss
3de - CA van Niekerk
Mans:
1ste - Evan Lategan
2de - Loekie van der Merwe
3de - Tiaan du Toit
Dagwenners:
1 ste - Evan Lategan
2de - Luka van der Merwe
3de - Loekie van der Merwe
Baie geluk aan Evan Lategan wat ‘n voltal geskiet het en Luka van der Merwe, ‘n penkop, wat slegs een ghong gemis het. Boesmanland Jag sien uit na ‘n suksesvolle 2026.





Nieuwoudtville Landbou Unie het 'n uitnodiging aan Boesmanland Jag, Tak van KAAPJAG, gestuur om hul vergadering op Dinsdag aand 10 Februarie 2026 toe te spreek rakende die Vuurwapenwet, asook ander kwessies rondom dit.
Jan du Toit en Anthony Swift het aangeleenthede soos die herlisensiërings, gedeelde lisensies en ander knelpunte aangeraak. Vrese rondom die nuutste verwikkelinge ten opsigte van die voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenwet is ook aangespreek en vrese is besweer deur die gaste in te lig dat organisasies soos KAAPJAG en CHASA hulle beywer vir ons regte as vuurwapen eienaars. Die belangrikheid van lidmaatskap aan 'n bewese organisasie soos Kaapjag was ook weer uitgelig. Dit is verblydend dat heelwat van die gaste reeds lede van Kaapjag is.
Die moontlikheid van die aanbied van 'n skietbyeenkoms te Nieuwoudtville is ook bespreek en is onder sterk oorweging by Boesmanland se bestuur, ten einde meer mense aan Kaapjag bloot te stel en uit te reik na buurdorpe. Die gaste het die aanbieding insiggewend gevind en ons het goeie terugvoering van hulle gekry.

ENQUIRIES
Please contact us with any queries you may have.