
Deur Peter Hardcastle
Die randslag silhouette- en windbuks-skiet was nog altyd ‘n baie gewilde aktiwiteit op Wes-Bolandjag se kalender. Hierdie is ‘n geleentheid waar kinders, ouers en grootouers saam kan deelneem en waar die jonger geslag baie keer vir die eerste keer aan die hantering van ‘n geweer blootgestel word. Ons jeug is ook die toekoms van ons jagtersverenigings. Om hierdie rede wend Wes-Bolandjag, ‘n tak van Kaapjag, ‘n baie groot poging aan om dié skietbyeenkomste vir ons jonger skuts aantreklik en onvergeetlik te maak. Servaas Rabie is die voorsitter van Wes-Bolandjag en ook die Kaapjagbestuurder verantwoordelik vir Jeugontwikkeling.
Gedurende 11 Julie 2026 het die gewilde jaarlikse Randslag (.22) Silhouette- en windbuksskiet plaasgevind op die skietbaan buite Moorreesburg. Vanjaar het Servaas die Wes-Kaap Skole Skiet Vereniging (WKSSV) uitgenooi om deel te neem aan die dag. Die WKSSV skoliere is baie aktief op die terrein van Windbuksskiet en het verskeie leerlinge op provinsiale sowel as nasionale vlak sukses bereik. Die skietoefening en opleiding, asook kompetisies vind hoofsaaklik binnenshuis plaas. Die blootstelling aan buitelug skiet sou dan vir die grootste meerderheid ‘n nuwe ervaring wees, veral omdat die wind omstandighede nie aan hulle bekend is nie.
Die opkoms tydens Saterdag 11 Julie 2026 het almal onkant gevang. Die inskrywings vir die dag het alle verwagtinge oortref. Ons was verras met 77 inskrywings, wat bykans dubbel die hoeveelheid is wat die vorige aktiwiteite opgelewer het. Van die Wes-Kaap Skole Skiet Vereniging het 29 persone (junior skuts en afrigters) opgedaag. In totaal het 32 jongmense die dag saam met ons meegemaak.

Tyler “Rambo” Visser van WKSSV was meer as gemotiveerd vir die dag. Hy het ekstra moeite gedoen met sy kleredrag vir die dag. Sy pa en oupa se stories moes ‘n groot invloed op hom gehad het. Dit was baie duidelik dat hy trots was op sy mondering en het elke fasset van die dag geniet.

Saterdagoggend was een van daardie mooi wintersdae wat net in die Weskaap gevind kan word. Die mooi wolklose blou lug met die groen koringlande het ‘n mooi agtergrond prentjie geskilder. Die Suid-Ooste wind het anders besluit en ‘n baie stewige dwarswind vir ons gebring. Die koue daarmee saam was bibberend. Die oggend het 09:00 afgeskop by die klubhuis met die gebruiklike bekendstellings en skietbaan reëls en etiek. Braam Marais van Wes-Bolandjag was hoof baanoffisier vir die dag en het die moets en moenies duidelik, tog vriendelik, aan almal deurgegee.

Kaapjag heg baie groot waarde aan wildbewaring en dit is dan ook een van die 3 bene waarop die vereniging funksioneer. Peter Hardcastle (Bewaringsbestuurder van Kaapjag en lid van Wes-Bolandjag) het ‘n kort praatjie gelewer, wat gefokus het op wat wildbewaring behels en hoe ons as publiek ‘n belangrike rol speel in die bewaringsproses. Bewaring is nie net ‘n aksie wat in die veld en buitelug gebeur nie. Bewaring begin in ons huise, waar ons elke dag met hulpbronne omgaan wat ‘n impak op die natuur daar buite het.

Die skietpunt is in twee atktiwiteitsones verdeel. Windbukse aan die regterkant en Silhouette aan die linkerkant van die skietpunt. Die wind was egter ‘n faktor wat baie van die skuts laat kopkrap het. Vir die skuts van WKSSV was die wind ‘n nuwe uitdaging wat hulle nie ken nie. Dit het egter nie hulle geesdrif gedemp nie.
Omdat skutsv an WKSSV slegs windbukse in hulle arsenaal gehad het, het Kaapjag 5 van hulle randslaggewere asook al die ammunisie, insluitende die windbuks patroontjies vir die besoekende jeugskuts geborg.
Die silhouetteskiet het uit 5 bane bestaan, naamlik die hoendertjies op 15m, die varkies op 30m, die patrys op 45 meter, die rammetjies op 60m en die “tumbler” op 35m. Daar is vyf skote op elke baangeskiet (25 skote in totaal). Al die skote is vanuit die staande posisie en uit die skouer geskiet (geen russe is toegelaat nie). Opvallend was dat die skuts van WKSSV baie gemaklik met hierdie posisie was omrede dit die posisie is waaruit hulle baie gereeld oefen en deelneem. Die ander skuts was minder gemaklik met hierdie posisie omrede die baanaktiwiteite van Kaapjag meestal oor veel langer afstande geskiet en meestal nie vanuit die staande posisie sonder russe nie. Die tellings van die dag het dit ook weerspieël.
Vir baie van die WKSSV skuts, was die skiet met .22-gewere ‘n eerste ervaring. Hulle het hulle nie laat afskrik deur ‘n sterk dwarswind nie en het die advies wat hulle ontvang het van die ervare skuts, met entoesiasme toegepas. Hulle het oor die algemeen goed gevaar. Dit was ook vanuit die staanspoor duidelik dat die randslaggewere ‘n baie positiewe ervaring was en dat die gogga verseker gebyt het.
Die WKSSV het die windbuksafdeling beman. Elke skut het met 2 windbukse geskiet (veer-aksie en PCP). Die skuts het 10 skote met elke geweer op ‘n afstand van 15m ‘n groeperings geskiet. Elke geweer teiken het bestaan uit 10 kleiner teikens en moes een skoot na elkeen van die 10 kleinteikens geskiet word. Die teikens is deur WKSSV voorsien. Dit was voorwaar ‘n uitdaging om in die winderige weersomstandighede die teiken se senter-area raak te skiet , waarvolgens die punte van die skut bepaal is. Ditwas baie duidelik watter skuts ervaring het om in alle weersomstandighede te kan skiet, vir baie van ons senior skuts wat gereeld Kaapjag skiete doen was dit ook n nuwe ondervindig om n groeperingskiet met n windbuks te skiet. Dit het gelei tot n heerlike en entoesiastiese atmosfeer onder die skuts .
Dit was opmerklik dat die ouers met trots hulle kinders se deelname en ervaring gedeel het. Daar was die enkele tong -in-die-kies opmerking dat hierdie ervaring van die kinders hulle gaan kos en dat die begrotings “herbesin” sal moet word.

Vir die Wes-Bolandjag deelnemers, was dit duidelik dat baie meer geoefen sal moet word om vryhand uit die skouer te skiet. Die uitdaging is vir volgende jaar gestel.
Hierdie byeenkoms was die eerste gesamentlike byeenkoms tussen ‘n Kaapjagtak en Wes-Kaap Skole Skiet Vereniging. Daar is ná die tyd entoesiasties gesels oor die dag en die positiewe gesindheidwat deur die dag geheers het. Daar word alreeds met opgewondenheid gepraat van volgende jaar se byeenkoms.
Klik op die skakel om meer van die dag te besigtig, https://www.facebook.com/share/19GNrD3Tnn/?mibextid=wwXIfr
ENQUIRIES
Please contact us with any queries you may have.