.png)
KAAPJAG se jaarlikse Safari Outdoor Intertakskiet het op die Waylands Skietbaan naby Darling plaasgevind op Saterdag 21 Maart 2026.
Op ‘n pragtige sonnige herfsdag, het bykans sewentig deelnemers van oor die hele Wes-Kaap saamgetrek op die Waylands Skietbaan. Die dag het afgeskop met ideale omstandighede maar getrou aan die Kaapse Weskus, het ‘n skotige windjie opgesteek uit die suid-weste en loodreg oor die baan gewaai, van links na regs. Dit was net om seker te maak dat die skuts die skiet nie te maklik sou vind nie.
Die gebruik is om jaarliks hierdie byeenkoms, op ‘n rotasie basis tussen die elf takke van KAAPJAG te wissel. Vanjaar se byeenkoms is aangebied deur Sentraal Tak wat gesetel is in die Kaapse metropool. Sentraal Tak se manne, onderleiding van die Voorsitter Paul Harding, het ‘n goed georganiseerde skietbyeenkoms aangebied en die skuts het die dag terdeë geniet. Die skiet is aangebied volgens die CHASA Senterslag Ghongskiet-reëls en die wind het beslis bygedra tot ‘n uitdagende skiet. Die dag is ruim geborg deur Safari Outdoor en die prysgeld aan geskenkbewyse het R30 000.00 beloop. Die vereniging het groot waardering vir Safari Outdoor se ondersteuning en ons is oortuig dat die borgskap bygedra het tot die algehele sukses van die geleentheid.
Die topskut van die dag was Evan Lategan wat behoorlik moes veg vir sy eerste plek. Evan, Wesley White en Hugo Coetzee het voltalle geskiet en moes toe ‘n uitdagende uitskiet doen om te bepaal wie met die louere sou wegloop. Evan het gevolglik die uitskiet gewen en vir die tweede agtereenvolgende jare die trofee as beste skut verwerf. Die spankompetisie is deur Boesmanland Tak se span gewen en sodoende die wenners van die vorige twee jare, Sentraal Tak, uitgestof vir die gesogte skild.









ENQUIRIES
Please contact us with any queries you may have.