KAAPJAG HOU REKORD-BYGEWOONDE 42STE ALGEMENE JAARVERGADERING

Kaapjag het op Saterdag, 18 April 2026, sy 42ste Algemene Jaarvergadering by die Oakdale Klub in Bellville aangebied — en dit was ’n besonderse geleentheid. Die vergadering is uitstekend bygewoon, met die grootste getal lede nóg wat saamgekom het om die organisasie se vordering, prestasies en toekoms te vier.

Die dag het afgeskop met die Voorsittersverslag deur Voorsitter Yaseen Hanware, wat insig gebied het in Kaapjag se groei en strategiese fokus. Dit is gevolg deur twee sterk en insiggewende aanbiedings. Peter Hardcastle, Bestuurder: Bewaring, het die kritiese rol van jagters in volhoubare bewaring beklemtoon, terwyl Dr Ashley Naidoo, Hoof Uitvoerende Beampte van CapeNature, die sukses van bewaring in die Wes-Kaap en die waarde van samewerking met Kaapjag uitgelig het.

Die finansiële resultate vir die jaar geëindig 28 Februarie 2026 is suksesvol voorgelê en goedgekeur, en die bestuurslede van Kaapjag is amptelik bekragtig.

Erkenning van lede se prestasies en bydraes het ’n groot deel van die program gevorm. Sportskiettoekennings vir die afgelope jaar is oorhandig, terwyl juniors wat hul eerste suksesvolle jag beleef het, beloon is met ’n jaar se gratis lidmaatskap — ’n belegging in die volgende generasie jagters. Langdienslede is vereer vir 25 jaar se lojaliteit, en Peter Hardcastle is aangewys as Kaapjag se Lid van die Jaar. Die Boesmanland Tak het die toekenning vir Tak van die Jaar ontvang.

Die dag is verder afgerond met die gewilde Safari Outdoor Kaapjag Ledewerwing Trekking, waar bestaande lede wat nuwe lede gewerf het, die kans gestaan het om ’n nuwe jaggeweer te wen — ’n inisiatief wat groei en betrokkenheid binne die organisasie bevorder.

Hierdie jaarvergadering het weereens bevestig dat Kaapjag nie net ’n organisasie is nie, maar ’n sterk, groeiende gemeenskap wat verbind is tot bewaring, verantwoordelike jag en die beskerming van ons erfenis vir toekomstige geslagte.

ENQUIRIES

Please contact us with any queries you may have.

back to blogs