
Deur Henri du Toit
Voorwoord deur Matt Relihan: Hendri du Toit is al sedert 1985 ‘n lid van KAAPJAG. In hierdie tyd, het hy hom ononderbroke toegewy aan die vereniging en het al by tye, die Voorsitter-stoel hanteer. Hy het egter deurlopend gedien vir 42 jaar, in een ander hoedanigheid in diens van Kaapjag se lede. Vandag op 84 jarige ouderdom, is Henri steeds betrokke by die grootste Kaapjag tak se bestuur. Dit was vir my besonder lekker gewees om hierdie storie van hom, wat 27 jaar gelede deur Chip Joubert in ons nuusbriefie geplaas was, raak te loop in die argiewe. Ek het gedink dit is so ‘n mooi storie, dat dit gerus weer gelees kan word. Wat die storie meer besonders maak, is die feit dat beide die twee Kafue lechwes waarvan in die storie vertel word, se skouermonterings hang in die Kaapjag kantoor. Ek het vir Henri genooi om by ons ‘n draai te maak sodat ek ‘n fototjie kon kry vir ons argiewe. Hieronder is die merkbaar ouer Henri, afgeneem by een van die lechwes.
Dit is die 22ste April 1999 en dit het hierdie week lekker in die Kaap gereën en uiteindelik is ons lang somer verby. Kouer weer is mos jagweer en nostalgies dink ek terug aan die avonture van verlede jaar Juliemaand in Zambië. 'n Glas rooiwyn later en die foto-album word nogmaals deurgeblaai. Dit was 'n besondere jagtog dié en die foto's verskerp die herinneringe van die drie weke in die vreemde sonder telefone, koerante, TV, en al die dinge wat so noodsaaklik vir ons alledaagse lewe is.
Ek en my jagmaat, Thinus Smith het so 8 500 kilometer agter die rug, saam met vier jagters van die Noordelike Provinsie. Goeie ouens dié, ervare jagters met 'n fyn oog vir 'n trofeehoring. Ons het die heel tyd gekamp en self kos gemaak, net soos dit eintlik behoort gedoen te word.Ons het daar bo in Noordelike Zambië gaan draai op die Bangweulu "Flats", soos die vloedvlakte bekend staan. Die laaste 120km pad soontoe was ongelooflik swak en het vyf uur gevat! Dit was alles egter die moeite werd, want daar was honderde swart Lechwes en Tsessebes, iets heeltemal verstommend vir 'n Bolander.
Ons het almal goed gejag en uitstaande trofees gekry. Ek het twee mooi Tsessebes en 'n swart Lechwe platgetrek, al drie Roland Ward trofees. Die jag was opwindend en ek kon nie glo dat alles uitgewerk het soos ek gehoop het nie. Maar dis nie waaroor dié storie gaan nie – die seldsaamste jag het die volgende week op die Kafue “Flats” plaasgevind, in Suid-Wes Zambië. Ter verduideliking, die "flats" is nie woonstelle nie, dis 'n plat vloedvlakte van ongeveer dertig duisend vierkante kilometer. Ek kon dit nie glo toe ons uit die tipiese bosveld ry en skielik is dit net plat voor ons. Daar is geen landmerke nie, nêrens iets om die bokke van agter te bekruip nie. Soos ons nader ry, sien ons troppe Kafue Lechwe in die vlak water wei. Hulle is maar goed wild geskiet, want toe ons hulle nader, vlug hulle vir die veiligheid van die dieper water. Watter gesig, met water wat oral om hulle spat en dreun soos 'n waterval. Eers is ons toeriste en vergaap ons aan die petalje, maar gou word die ramme met die groot horings deurgekyk.
Die manne is noodgedwonge te voet die vlak water in om 'n bietjie nader te kom. Die wenner van die dag was my Karoo-skietstokkie, wat daardie lang skote laat tref het.

Daar word seker so vier mooi Lechwes binne 'n uur geskiet en hulle moet uitgesleep word, nog 'n nuwe ondervinding. Dit gaan maklik in die dieper water, want hulle dryf, maar ons sukkel deur die swart turf tot by die bakkies. Gou vind ons uit dat waterlei-stewels, tekkies en sandale nie werk nie – hulle word uitgeskop en ons durf die Kafue kaalvoet aan. Dit gaan verbasend goed, geen klippe, stokke of harde gras nie, net die sagte watergras. Ongelooflik!
Uiteindelik is dit my beurt om te skiet. Ek en die Zambiese gids durf die moeras agter 'n pragtige ram met uitsonderlike horings aan. Die trop is egter wild, en ons volg hul al dieper die moeras in. Die water is later amper tot by my middellyf toe ons die stryd gewonne gee, seker 'n goeie drie kilometer van die bakkie af. Moeg en teleurgesteld kom ek by die bakkie aan en sien almal se mooi trofeë daar lê. Thinus s'n maak net-net Roland Ward, ek is bly vir hom.
Ons ry 'n entjie verder en sien 'n mooi troppie. Weer vat ek en die gids kaalvoet die moeras aan. Ons hou so skuins na die trop toe, en toe hulle onrustig raak, gaan sit ons vinnig op 'n droë kol. Die .30-06 lê stil oor my skietstok, die mooi ram staan plankdwars. Ek raak aan die haarsneller en die bok sak in sy spore neer. Watter verligting, ek het nie die skoot verbrou nie en ek het my Lechwe. Ons stap die sowat 250 meter nader, en merk links van ons 'n mooi ram, met groter horings as my eerste. Weer gaan sit ek met die skietstok. Dis baie verder, maar nou ontbreek ek nie aan vertroue nie! Die eerste twee skote is onder deur – ek het die afstand hopeloos onderskat. Die derde skoot klap en stadig sak die ram inmekaar. Die gids bekyk hom deur die verkyker en sê met oortuiging: "The life has left him."
Ons stap nader om hom te gaan haal, toe hy wonderbaarlik weer lewe kry en doodluiters in die trop gaan staan. Ons stap skuins nader, maar die hele trop word erg senuagtig en maak reg vir weghardloop. Ek besluit om dadelik te skiet en gaan sit in die voet-diep water. Weer is die skietstok van ongelooflike waarde, die kruishare lê doodstil. Toe die skoot klap, spring die ram seker twee meter agteroor die lug in en val met sy horings diep die modder in. Verlig stap ek nader. Die laaste skoot was 'n hartskoot, maar die eerste skoot was 'n goeie longskoot, nie ver weg nie. Dis taai bokke dié. Die ouens kom help die bokke terugsleep bakkies toe, sowat 'n kilometer ver. Uiteindelik maak ons dit, met lam bene.
Mense, ek voel goed. Baie van ons het al op die Karoo en Namibië se vlaktes en woestyne gejag, maar hierdie was iets anders – water en modder in plaas van sand en klippe! Ek is so opgeruimd, so trots, so bly, ek kan dit nie glo nie. Die horings word gemeet. Hulle skiet kort van trofee-gehalte, maar dit maak nie saak nie. Hierdie was 'n onvergeetlike jagtog, die hoogtepunt van baie jare se jag. Op pad terug sit ek met 'n bier in die hand, 'n nat broek, vuil voete en 'n groot glimlag agter op die bakkie. Ek het iets heeltemal sonderling beleef, en almal deel in my vreugde.
Daardie aand word daar laat gesels. Geduldig luister ons oor en oor na mekaar se stories. Iemand wonder of daar krokodille in die moeras is. Veel later word daar onder die koue stort probeer om die klewerige swart modder van ons bene af te kry. 'n Onvergeetlike dag dié.
Later die week skiet ek 'n mooi Sebra, maar nog dit, nog die Tsessebes en swart Lechwe-jagte, was so besonders soos my kaalvoet jag agter die Lechwe aan nie. Die twee monterings hang hier in my studeerkamer tussen 'n paar ander – nie die beste trofeë nie, maar die beste jag!
Vriendelike jagtersgroete,
Henri du Toit
ENQUIRIES
Please contact us with any queries you may have.