In die gees van vrouemaand vier Kaapjag die passie, vasberadenheid en unieke perspektiewe van vroue in die jag- en sportskietwêreld. Hierdie week ontmoet ons Maretha Thiart, ’n skut wie se liefde vir sportskiet reeds op hoërskool begin het en oor dekades tot ’n lewenslange passie ontwikkel het. Sy gesels met ons oor haar vroeë dae in die skietwêreld in Calvinia, haar betrokkenheid by Kaapjag, en hoe sy oor die jare haar plek op die skietbaan gevestig het.
Maretha se storie is een van deursettingsvermoë, familiebetrokkenheid en ’n vurige hoop om meer vroue op die skietbaan te verwelkom.
“My liefde en passie vir skiet het op skool begin. My skool (Hoërskool Calvinia) het skiet as sport aangebied en ek was daar deel van die skietspan onder die leiding van Mnr Alewyn Nel . My liefde vir die sport het daar begin en gegroei.”
“Ek het na afloop van my skoolloopbaan by die plaaslike Kommando aangesluit om te kan skiet. Nadat die Kommando toegemaak het, het ek by ons plaaslike skietklub begin skiet en by Kaapjag se Boesmanland-tak in Calvinia aangesluit.”
“My eerste jag was saam met my pa en dit bring vir my spesiale herhinneringe na vore. Ek het al 'n paar keer daarna gejag vir die pot, soos hulle sê, maar ek het ’n groter aanklank by baan- en veldskiet gevind.”
“Toe ek begin skiet het, was daar nie baie vroulike skuts nie en was ek baie keer die enigste
dame op die baan. Dit voel soms of jy maar redelik skepties aangekyk was. Met baie oefening en luister na die regte raad en ondersteuning van my medeskuts, het ek my plekkie op die skietbaan oopgegrawe.”
“Sjoe, ek moet sê daar is so baie goeie dinge wat ek onthou van my skietloopbaan, maar die paar wat vir my die meeste uitstaan is toe ek op skool my WP Kleure gekry het vir skiet, en ook toe ek my Junior Springbok Kleure vir die Kommando waar ek geskiet het verwerf het. Ek het ook nadat ek by Kaapjag aangesluit het een jaar vir die damesspan geskiet.”
“Op die oomblik skiet ek met my 270 Musgrave. Sy het my aan die begin bietjie seer gemaak met die skop, maar trek haar net bietjie stywer vas in die skouer dan is dit nie so erg nie. Ons skiet baie met die .22 ook, wat ek net so baie geniet. Maar eendag (as ek groot is) wil ek nog baie graag ’n 243 besit.
“Ek kom so gereeld in aanraking met vroue wat së hulle is bang vir gewere en raak senuweeagtig wanneer dit in die huis is. Ek het begrip daarvoor, maar ek dink dit is belangrik dat vroue meer selfvertroue met wapens en die hantering daarvan bekom. Kaapjag kan beslis daarmee help. Ek ook dink dit is belangrik vir die takke van Kaapjag om vrouedae aan te bied, waar hulle opgelei kan word oor hoe om wapens te hanteer en meer vertroud daarmee te word.”
“Skiet is vir my 'n familiesport. Ek dink waarlik dit is ongelooflik wanneer een van die Kaapjag-takke se skietgeleenthede bywoon, en pa, ma en die kinders daar is om te skiet en die dag saam te geniet (soms skiet ma beter as die ander)! Kaapjag bied so baie geleenthede om te skiet , of dit jaggeleenthede of baanskiete is, en ek hoop om meer dames daar te sien in die toekoms.”
Maretha se storie herinner ons daaraan dat passie vir sportskiet nie aan geslag gekoppel is nie. Dit word deur geleenthede, oefening en ’n ondersteunende gemeenskap gekoester en vervolmaak.
By Kaapjag glo ons dat vroue nie net welkom is nie, maar dat hulle ’n wesenlike rol in die voortbestaan én vernuwing van die jag- en skietwêreld speel. Maretha se insigte wys hoe belangrik selfvertroue is wat wapens betref, en hoe Kaapjag ’n veilige en leerbare ruimte bied vir elke vrou.
Mag haar verhaal ’n aanmoediging wees vir elke vrou wat twyfel om die eerste sprong tot die skiet- of jagwêreld te neem. Jy hóéf nie perfek te wees om te begin nie. Neem net die eerste sprong, en kom vind jóú plek by Kaapjag.
ENQUIRIES
Please contact us with any queries you may have.